Lido di Venezia

Vaporetti, Venesiaanse waterbusse, verbind Lido di Venezia met die historiese middestad van Venesië, die Centro storico (teen die gesigseinder), en die treinstasie Venezia Santa Lucia. Die foto is geneem naby die waterbushalte Lido S.M.E. (Lido Santa Maria Elisabetta)
Hotel Riviera naby Lido S.M.E.
'n Vulstasie vir motorbote
Veerbote van Venesië se openbare vervoeronderneming Actv vervoer motors tussen Tronchetto, die verpligte parkeerterrein in die weste van die Centro storico, en Lido di Venezia
Strandlewe in Lido di Venezia. Daar is privaat (foto) en openbare strande op die eiland
Die luukse hotel Grand Hotel Excelsior se boustyl toon Moorse en Venesiaans-Bisantynse invloede, met binnenshuise versierings wat deur die Katalaanse kunstenaar Mariano Fortuny ontwerp is
Grande Albergo Ausonia & Hungaria, 'n juweel van Italiaanse Liberty-boukuns
Lido di Venezia het 'n bevolking van sowat 14 500
Malamocco met sy historiese dorpskern is in die suide van die Lido geleë. Die nedersetting met tans sowat 1 100 inwoners dateer uit die antieke tydperk en was histories tot die vroeë 9de eeu die eerste setel van Venesiaanse doges wat vervolgens na die Rialto verskuif is. 'n Stormvloed en aardbewing teen die middel van die 12de eeu het, net soos die Chioggia-oorlog tussen Venesië en Genua, verwoesting gebring

Lido di Venezia (afgelei van die Latynse litus «strand , kus») is die sentrale een van drie lang smal eilande of strandwalle van die Laguna Veneta of Venesiaanse strandmeer wat van Chioggia in die suide tot Jesolo in die noorde strek en die strandmeer van die oop Adriatiese See skei. Lido di Venezia, wat deel uitmaak van die Stad Venesië, strek oor 'n lengte van 11 km, maar is net enkele honderd meter wyd. Dit beslaan 4 km².

In die 19de eeu is dit tot 'n elegante strandoord ontwikkel, met villa's en luukse hotelle soos die Grand Hotel Excelsior, die Grand Hôtel des Bains en die hotel Hungaria Palace (tans bekend as Grande Albergo Ausonia & Hungaria). Die plaaslike Belle Époque-boukuns het van die beste voorbeelde van die Italiaanse Liberty-styl (stile Liberty) opgelewer, 'n plaaslike variant van Art Nouveau-boukuns wat hoogtyd gevier het tydens die Lido se bloeitydperk. Die 20ste eeuse munisipale stadsbeplanning het voorsiening gemaak vir die ontwikkeling van Lido di Venezia as 'n suiwer residensiële buurt met toeristiese infrastruktuur.

Die Internasionale filmfees van Venesië word jaarliks in Augustus en September hier gehou. In teenstelling met die historiese middestad van Venesië, die Centro storico, is daar in Lido di Venezia geasfalteerde strate en word motorvoertuie toegelaat (motorvoertuie word per veerboot tussen die Lido en die parkeerterreine op die eiland Tronchetto in die weste van die Centro storico vervoer). Busroetes verbind die belangrikste plekke op die eiland met mekaar. Lido di Venezia is - as 'n lang nou eiland met rustige paaie - ook gewild by fietsryers.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy